Het jy al ooit vir ñ blom gesit en kyk en gewag dat hy oopmaak? Ek het vandag. Ek is amper te bang om te gaan slaap… want more het ek dalk ‘n blom-fase gemis… en dan is dit vir altyd te laat… Ja, die blom gaan daar staan in volle prag…. maar ek wil deel wees van sy JOURNEY tot daar!
ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring, ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing, ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi, ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek, ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede. PREDIKER 3:1-8 AFR53
Nie al my blomme was egter so gelukkig nie. Ek het gedink fotosintese is ‘n opsionele ekstra, en het sommige blomme eers gesit waar daar nie genoeg lig was nie… Ek het toe gedink, aangesien water die bron van alle lewe is, dat ek die verlepte blare kon red met die suiwerste water wat ek in die hande kon kry… Toe verdrink hulle. Daarna was die volgende logiese stap om hulle in die son te gaan sit, te midde van die Pretoria hittegolf… May they rest in… pieces.
Elke sekonde hier op Aarde is deel van my en jou “journey”… As jy mooi en versigtig stap, is dit ‘n tree nader aan Sy volmaakte plan vir jou. As jy in gehoorsaamheid stap, blom jy bietjie vir bietjie. Tot jy volmaak staan in volle prag en glorie… nes my blom more oggend gaan lyk. Dis ‘n proses. Een wat gekoester moet word. Ingeneem moet word. Waardeer moet word. Dis ‘n proses waar jy nie net op die eindresultaat moet fokus nie, maar op elke fase tussenin. Elke nuwe blaar. Elke nuwe takkie. Elke nuwe stukkie kleur wat kop uitsteek. Dis alles deel van die groter prentjie.
Maar gaan sit jy vir te lank in die donker, gaan jy verwelk. Daar is nie ‘n “quick fix” vir ‘n dooie siel nie. Dit gaan tyd en energie vat. Baie. Effort. Seer. Ja, ons dien ‘n God van herstel, maar hoekom moet ons dinge altyd tot op die punt laat gaan waar herstel nodig is? Hoekom “nurture” ons onsself nie beter nie? Genoeg Lig. Genoeg Water. Genoeg Lug. Genoeg van die 3-in-Een (Vader, Seun en Gees). Daagliks.
Ek is opgewonde… ek sien die plant stoot al klaar ‘n nuwe blom uit… Nog ‘n storie wat voor my oë gaan ontvou. Nog ‘n geleentheid. Nog ‘n dag. Nog ‘n storie. Nog ‘n journey…
Dis mooi.
Dis kosbaar.
Dis lewe.
Mag jy in 2021 blom waar jy geplant is… en mag jy elke stappie van jou journey geniet, koester en waardeer… alles tot eer van ons drie-enige God!







