So sit ek onlangs voor een van my mentors en probeer bietjie die laaste paar maande van my lewe prosesseer.
“Wanneer laas het jy geskryf?”, vra sy.
“Regtig?! Het jy enige idee hoe crap my lewe op die oomblik is?? My liefiehond van 14 jaar is dood in my arms, my pa lê in ICU, mense ná aan my het seer, finansies is… wel… ja…. EN ek is moeg en geirriteerd en nie LUS vir skryf nie!”, dink my vleesmens omgekrap in my gedagtes.
“Lanklaas.” Dis al wat my geesmens antwoord.
“Nou dink jy nie dis weer bietjie tyd nie?”, vra sy saggies.
“Man! Los my uit! Ek sien nie kans nie. Wil nie. Sal nie. Gaan nie! Waaroor moet ek in elk geval skryf? As ek nou my gedagtes neerpen, gaan ek mense tot drank en sigarette dryf!” gil my vleesmens. Darem weer nie hardop nie.
“Seker ja”, antwoord my geesmens haar.
“Nou ja toe”, is haar antwoord.
“Nou ja toe”, koggel my vleesmens haar. “So maklik soos dit, ne?”
My geesmens is doodstil.
Ek werk soms bietjie andersom as meeste mense. As mense warm kry, trek ek my trui aan. As mense truie aantrek, soek ek roomys. Net so huil ek nie sommer as ek hartseer is nie. Maar wel as ek kwaad/gefrustreerd voel… Ek voel ‘n lastige traan in my linkeroog…. dit lei natuurlik tot verdere frustrasie, want hello, ek moet mos sterk wees.
‘n Klein pienk boksie vol wit hartjies word nader gestoot. Sjokolade!, dink ek vir ‘n halwe sekonde. Nee, tissues. “Tissues in ‘n hartjie box”, gesels sy verder. “Nogals gepas, ne? Amper soos pleisters vir jou hart…”
“Okay fine, gee my ‘n simpel tissue, dan het ek darem iets om mee te sit en speel”, redeneer my vleesmens.
“Dankie”, antwoord my geesmens.
Ek trek die boksie nader en my oog val op ‘n pen se ink refill wat in die kant van die boksie, langs die tissues lê.
“Dis weird. Wat ‘n simpel plek om jou pen se ink te bêre!” dink my vleesmens.
“Ek dink dis vir jou bedoel”, kom die woorde. “Jy sê mos jy het lanklaas geskryf”.
“Wow, dankie… ‘n Halwe pen”, koggel my vleesmens. “Waar is die res? Stukkend getrap? In die asblik?”
“Dankie”, antwoord my geesmens.
Ek sien ek word stip aangekyk.
“Daardie ink was in ‘n pen waarop die woord “JOY” geskryf was”, gesels sy verder.
“Ek sou baie meer joy gehad het as ek die hele pen gekry het”, sug my geesmens in my gedagtes.
“Nou shuush jy en luister vir my!” vererg my geesmens hom (haar?) vir my vleesmens.
Ek beduie vir my vleesmens om te shuush en luister geduldig.
Geesmens: “Kan die pen nog skryf”?
Vleesmens: “Ja”.
Geesmens: “Al is die ink se “buitekant” weg?”
Vleesmens: “Ja”.
Geesmens: “So, die pen is nie afhanklik van die buitekant om te kan skryf nie?”
Vleesmens: “Nee”.
Geesmens: “Gestel die pen het ‘n wil van sy eie gehad, sou die pen se buitekant beinvloed het wat die pen geskryf het”?
Vleesmens: “Huh?”
Geesmens: “Moet die ink ‘n buitekant van “joy” aanhê om oor geluk te kan skryf? Of ‘n buitekant van “love” om oor die liefde te kan skryf? En beteken dit dat ‘n buitekant van “trial” eers gaan nodig wees, voor die ink ‘n ware lewensverhaal gaan kan neerpen?”
Vleesmens: “Natuurlik nie!”
Ek begin so half sien in watter rigting hierdie gesprek gaan beweeg, maar ek is nog nie heeltemal seker nie en wag in spanning. ..
Geesmens: “Nou hoekom laat jy dan toe dat jou buitekant jou storie bepaal?”
Vleesmens: “Ek verstaan nie”.
Geesmens: “Dinge om jou is deurmekaar, ja. Die buitekant is plek-plek-en-elders chaoties. Vol bliksemstrale en donderweer. Maar dis net die buitekant. Jy is nog okay. Jy kan nog skryf. Jy kan nog asemhaal. Jy kan nog leef. En jy kan KIES hoe jy jou lewe verder uitskryf. Skryf jy “joy”? Skryf jy “love“? Skryf jy “triumph“? Of skryf jy smart, bitterheid, woede en vrees? Laat jy toe dat jou buitekant, die dinge wat met jou gebeur, jou binnekant vervuil?”
Sjoe.
Ek kan nog skryf. My lewe is my storie. Ons is nog nie op die laaste bladsy nie. My “buitekant” is dalk effens besoedel, maar my gees is sterk genoeg om alles te oorkom.
Leef jy van buite af binnetoe, of van binne af buitetoe?
Die keuse is joune.
Skryf soos jou wil. Leef soos jy wil. Moenie dat dit wat met jou gebeur jou lewenswandel van koers af stuur nie.
Die pen is in jou hand.
Skryf!






