Ons almal het ons gunsteling gesegdes. Woorde waaraan jy vashou, woorde wat jou inspireer, woorde wat ander motiveer.
My gunsteling 4 gesegdes is as volg:
More skyn die son weer. Dis so eenvoudig soos dit. Ek weet nie waar my liefde vir hierdie sê-ding ontwikkel het nie, maar dis tog so voor-die-hand-liggende gesegde. Ek glo en vertrou dat die son more weer gaan skyn. Elke dag. Vir solank as wat ek leef of vir solank as wat dit Sy wil is. Mens het nie altyd al die antwoorde vir al die dinge waardeur ander gaan nie… maar so klein en eenvoudig as wat hierdie gesegde mag klink, het dit al tot verligting van vele mense se donker wolke bygedra.
This too shall pass. Soortgelyk aan gesedge nommer een, maar meer gepas in sekere situasies. Ek was op my heelword-pad so paar jaar terug, en het voor ‘n Hebreeuse seun met sulke lang hare in ‘n kibboets in Israel gestaan (ek het nogals gedink hy lyk soos Jesus in die kinderbybel) en ‘n paar van die ringe wat daar te koop was, aangepas. Elke tweede persoon wat in Israel gaan kuier, koop die “I am my beloved’s and my beloved is mine” ring… en ek wou iets uniek gehad het. Die oomblik wat ek die ring met die Hebreeuse skrif aan my vinger gesit het, het ek geweet dis die ring wat ek soek. Ek vra toe vir die verkoopspersoon wat die woorde op die ring beteken en hy antwoord my in sy beste gebroke Engels: “Hmmmmmmmmm. Okay. Right. So. Basically. It means. Everything. Will. Be. Okay.” En hy glimlag soos ‘n posbus. Ek is toe daar weg met my “everything will be okay ring” en het later by die toergids gehoor die korrekte bewoording is “this too shall pass”. En dis so waar. Alles sal okay wees aan die einde. So indien dinge nog nie okay is nie, is jy nog nie by die einde nie…
Ander se opinies van jou het niks met jou uit te waai nie. Sjoe. Moeilike ene die. Beteken dit jy moet ‘n veer voel vir wat mense van jou dink, en optree nes jy wil, want wat maak dit tog saak wat ander dink? Nee. Maar dit beteken wel dat mense hul eie opinies van jou gaan vorm. Hulle gaan hul eie prentjies van jou skilder – soms met vuil kwasse. Ander se opinies oor jou, sê baie meer van hulle karakter en menswees as wat dit van jou sê. Moenie toelaat dat ander mense jou van koers af dwing nie. Jy weet wie jy is. Jy weet wat jou roeping is. Jy weet wat jou identiteit in jou Hemelse Vader is. Glo dit. Kies mense wat geseënde en gesalfde woorde oor jou en jou lewe spreek.
Dit gaan beter as gister maar slegter as more. ‘n Hele paar mense het my al half verbaas aangekyk as ek so praat, want hulle dink dadelik: wat gaan more gebeur waarna ek so uitsien? Wie weet? Dalk iets. Dalk niks. Maar jou woorde bepaal jou koers. As ek spreek dat dit more beter sal gaan as vandag, beteken dit nie dit gaan sleg vandag nie. Dit beteken wel dat ek met elke nuwe dag wat breek, uitsien na NOG. Nog beter. Nog meer. Gesonder. Gelukkiger. Vryer.
Vandag het daar vir my nog ‘n liggie aangegaan. Ek besef vandag dat Vader my al lankal voorberei met my gunsteling 4 sêdinge, want vandag het ek nodig om dit oor myself te spreek, en myself daaraan te herinner. So neem vandag so bietjie introspeksie. Kyk na wat jy graag sê. Kyk waarmee jy mense graag bemoedig. En wees wakker. Wees wakker en weet dat Vader dalk besig is om jou toe te rus vir ‘n dag wanneer jy self jou eie bemoediging gaan benodig… Wanneer jy sal moet vashou aan dit wat jy graag uitdeel…
Mag jy dan vandag onthou dat die son more weer sal skyn. Mag jy onthou dat “this too shall pass”, want alles gaan okay wees! Mag jy vandag onthou dat ander se opinies van jou niks met jou uit te waai het nie, en mag dit more met jou beter gaan as vandag, en baie beter as gister!







